Fietsportret: Marike van der Watt (PhD-student)


1.       Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Ongelukkig nog nie lank genoeg nie, en dit het ‘n Belgiese draai gekos om my by hierdie punt te kry. In 2018 het ek en my gesin in Leuven gewoon vir navorsing, en danksy die goeie openbare vervoer het ons besluit om die jaar karloos deur te sien. In Leuven het ons slegs twee kilometer van die stasie af gewoon en 600m van die naaste winkels af, maar ná ‘n ruk raak die gestap stasie of kampus toe ‘n berg, en ek was dankbaar toe ‘n vriend sy plooifiets vir my aangebied het waarmee ek my reistyd aansienlik kon verkort. Die fiets is toe ook gerieflik ingespan vir inkopietogte, want jou mandjie kruideniersware raak gou ‘n ton as jy moet terugstap huis toe. By ons terugkeer na Stellenbosch het ons besluit om ons fietsrygewoontes so veel as moontlik voort te sit. Stellenbosch is meer uitgespreid as Leuven (en dis nie so plat nie!), maar ek geniet dit om met my fiets te ry en kan nie glo dat ek voorheen so vinnig in die kar gespring het vir kort afstande nie.

2.       Hoe het dit jou lewe verander?

As ek met my fiets ry, hoef ek nooit soos die Israeliete sewe dae om Jerigo se mure te trek en op ramshorings te blaas voor ek gelukkig genoeg is om ‘n parkeerplek in die dorp te kry nie. Ek kan my fiets orals gratis parkeer en  by my departement (in die Lettere-gebou op die kampus) boonop in ‘n fietsloods agter slot en grendel. Dit is seker die mees voor die hand liggende kwaliteite van my fietsryery. 

Ek het ook besef ek koop regtig baie meer oordeelkundig as ek vinnig by die winkel stop op pad terug huis toe: daar is net soveel plek in my fietsmandjie, en my rugsak kan nie oorlaai word nie. Gevolglik ek dink twee maal voor ek  iets koop. 

In spitsverkeer ry ek teen my gewone spoed terug huis toe en kom waarskynlik vroeër by die huis as wanneer ek met die kar sou ry. 

As ‘n ma sorg my fiets ook vir groter vryheid, en dit is miskien die ingrypendste verandering wat ons nog nie behoorlik omhels het nie. Voorheen was dit te maklik vir die kinders om ‘n rit hierheen of daarheen te versoek, maar nou lag ek in my mou as ek laat weet ek is met my fiets in die dorp. Ons kinders word dus ook gedwing om meer fiets te ry en self meer onafhanklik te wees. Dit is ongelukkig nie altyd moontlik nie. In die wintermaande was dit maar donker Bloemhof toe in die oggende en ‘n tjello of viool saam met ‘n yslike skooltas gaan nie goed werk op ons paaie nie!

3.       Hoe ver ry jy elke dag?

As ek kantoor toe en terug ry is dit net meer as ses kilometer, maar soms moet ek ander draaie in die dorp ook ry wat die afstand bietjie rek. Dit wissel tussen 80-100 km per maand.

4.       Vertel ons meer van jou fiets

My fiets verdien eintlik ‘n storie! In ‘n terloopse gesprek met Patricia Botha het sy my vertel van haar man, Dawid Botha, se stokperdjie om ou fietse te restoureer. Hy het my genooi om te gaan kyk na sy fietse, maar nie een van hulle het (volgens hom) by my gepas nie. Uiteindelik het hy laat weet dat hy iets vir my opgespoor het: ‘n ou KTM uit Oostenryk wat hy met soveel liefde gerestoureer het dat ek byna te bang was om daarmee te gaan ry omdat daar stof op sou kom! Dit is ‘n dorpsfiets, en dit het aanvanklik vreemd gevoel om so laag en regop te sit as ek ry, heeltemal anders as die bergfietse waaraan ek gewoond was. Maar nou is dit vir my baie gemakliker as laasgenoemde.

5.       Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Belê in ‘n goedkoop dorpsfiets:  verminder die kanse dat dit gesteel sal word. 

Toets maar die verskillende paaie en roetes dorp toe. Sommige is meer fietsvriendelik as ander. Merrimanlaan is byvoorbeeld effens korter vir my, maar dit voel baie veiliger om in Victoriastraat te ry. 

Gebruik duidelike handseine om jou intensies aan te dui. Maar selfs dan moet jy steeds sorg dat motoriste dit gesien het en vir jou toelating maak. Ongelukkig is ons motoriste nog nie so op fietsryers ingestel nie. Hopelik sal dit verander as meer mense begin fietsry, die voordele daarvan besef, asook hoe blootgestel ‘n fietsryer is! 

6.       Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Ek sou graag wou sien dat daar elke 400-500 meter spesifieke sones geskep word waar taxi’s, Ubers en gewone motoriste kan stop om passasiers op en af te laai. Sodoende is fietsryers bewus daarvan en word jou lewe nie in gevaar gestel wanneer jy moet uitswaai vir ‘n voertuig wat op enige plek skielik voor jou stop, of rustig in die fietslaan staan en wag om iemand op te laai nie. 

Meer fietspaaie in die dorp – wat nie bloot as nagedagte met ‘n lagie verf op die besige pad aangedui is nie – sal dit ook veiliger maak. (Sommer net ‘n ander opmerking: soms ry ek wel op die sypaadjie omdat dit veiliger voel in spitsverkeer, maar dan besef ek ook hóé onvriendelik baie sypaadjies in die dorp en op kampus is vir rolstoelgebruikers, mense wat blind of andersins siggestremd is, en ouers met stootwaentjies…)

Ek dink ook ondernemings in die middedorp kan in samewerking met die munisipaliteit spesiale afslag aanbied vir fietsryers.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *