Fietsportret/Cycle Portrait: Org Groeneveld (ingenieur)

1. Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

My eerste herinneringe sluit fietsry in, ja ek ry nog altyd fiets! Behalwe vir skool en sport en koerante aflewer, het ons fiets gery vir plesier, kattekwaad en selfs in wedrenne. Toe ek in Kaapstad gebly het, het ek stasie toe gery van die Tuine en na die Waterfront toe ek daar gewerk het. Niemand “bum” ooit ‘n geleentheid nie, maar jy kom nog steeds oral waar jy wil wees.       

2. Hoe het dit jou lewe verander?

Wanneer jy fiets ry, is die frustrasiefaktor zero. Dit is nes vlieg: jy ruik die blomme en nat gras en rivierwater. Dit verander nie my lewe nie maar vul dit aan, want ek doen dit in elk geval. “Omring jouself met die mooi en …” is maar een van etlike aanhalings wat presies sê waaroor dit gaan. Dit is waaroor Stellenbosch gaan, daar is geen beter plek om jou dorp te geniet as op ‘n fiets nie, die intensiteit is net meer.

  1.  Hoe ver ry jy elke dag?

Ongeveer 5 km vir daaglikse vervoer met die dorpsfiets en dan oefen ek gereeld op my bergfiets. Ek ry met my kinders na hul buitemuurse aktiwiteite en hulle al al drie hou van fiets ry.

  1. Vertel ons meer van jou fiets of fietse

Kom ek vertel van die nuutste toevoegsel.  Ons maatskappy het onlangs twee e-fietse gekry vir bemarking. Pleks daarvan om kliënte vir ‘n potjie gholf of ete te nooi, neem ons hulle op die e-fietse deur Stellenbosch en op bergroetes of op selfs grondpaaie. Ons stop langs die pad vir ‘n glas wyn of koffie. Dit is ‘n heerlike alternatiewe opsie en almal is gek daaroor. Dit is ‘n gelykmaker en maak die minder fikse fietsryer minder bevrees om by te hou. Die fietse wat ons het, het volledige suspensie. Dit is Fatboy Trek-fietse  wat op elke tipe terrein kan ry, boonop ry hulle maklik en is bekostigbaar.

  1. Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Laat ‘n bietjie ekstra tyd toe, los ‘n ekstra stel klere by die werk vir die slag wat jy mag nat reën. Sit ligte voor en agter op jou fiets, maak jouself sigbaar. Oppas vir mense wat selfoon lees en nie kyk waar hulle loop nie, hulle hoor jou nie aankom nie. Kry ‘n goeie slot, ja al is hy swaar, want fietse kry voete. Belangrikste ding is, begin net. Dit raak net lekkerder.

  1. Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch? Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Die momentum van afgesperde fietsbane wat nie voetgangers op het nie, soos in Europa, maak fiets ry baie vinniger en veiliger, maar dit is seker nog ver in die toekoms by ons. ‘n Veilige roetenetwerk is wel al beskikbaar, veral langs die rivier endit laat jou toe om op enige plek in die dorp aan te sluit by ander paaie.

Die fietspaaie van Kayamandi na Plankenburg werk ook goed en moet net verder uitgebrei word. Die nuwe fietsrakke orals in die dorp sorg vir veilige vassluitplekke. Die Stellenbosch Trail Fund se nuwe sentrum in die ou Landbousaal in Die Laan gaan ‘n goeie afspringplek wees vir toeriste en die STF se netwerk van paadjies is ongeëwenaard in die land. Nee wat ouens, ek dink julle by Stellenbosch Fietsry is op die regte pad. Daar is al meer ondersteuning vir beter infrastruktuur. Ons kort net soms ‘n bietjie politieke wil, maar daarvoor het jul mos ’n paar dik velle in julle geledere. Hou so aan!

 

 

One thought on “Fietsportret/Cycle Portrait: Org Groeneveld (ingenieur)”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *